Reformanda Beradingsdienste is ‘n religieuse beradings-organisasie wat hom toespits op die pastorale berading aan mense in geestelike nood.
Reformanda Beradingsdienste het ‘n holistiese benadering ten doel in sy hantering en begeleiding van die mens in nood deur die ontwikkeling van ‘n gesonde spirituele lewe van die individu, groep of gemeenskap.
Reformanda Beradingsdienste lewer pastorale beradingsdienste deur opgeleide pastorale beraders. Indien nodig word beradenes na ander professionele kundiges verwys.
Die Latynse woorde “Semper Reformanda” , waarvan die organisasie se naam afgelei is, beteken Voortdurende Reformering. Dit is wat die pastorale beraders van Reformanda Beradingsdienste beoog, beradenes se lewens moet deur die beradingsproses voortdurend positief verander.
By Reformanda Beradingsdienste is die doel om altyd hervorming of verandering te weeg te bring volgens die Woord van God. Dit gaan oor die radikale nakoming van die Heilige Skrif, naamlik die Bybel.
Pastorale berading het die mens as objek. Die lewende, soewereine God is die subjek van pastorale berading, dié God wat Hom deur die skepping en onderhouding daarvan aan ons openbaar, maar Hom nog duideliker en volkome bekend maak deur sy heilige en goddelike Woord, soveel as wat ons nodig het in hierdie lewe, tot sy eer en saligheid.
Die akademies opgeleide pastorale beraders betrokke by Reformanda Beradingsdienste wil deur die omgang met die Skrif, die lewende God beter leer ken en hierdie geloofskennis gebruik om die objek van die berading, naamlik die mens, te begelei om oplossings vir krisisse, trauma, hartseer, smart en pyn te vind.
Lyding, siekte en sterwe roep telkens die een of ander vorm van hoop op, of dit nou hoop op beterskap en herstel is, hoop op spanningsverligting of hoop op troos. Sonder hoop voel die mens nutteloos. Dit is dus die doel van die pastorale beraders van Reformanda Beradingsdienste om aan die mens weer hoop te verskaf deur die bediening van die versoening van Jesus Christus.